Aan die voet van die Groenberg in Wellington is ‘n seuntjie met die naam Hercules. Sy eerste kamer was eers Mamma se kantoor, en daarom moes ons dit omskep in ‘n sagte landing wat gepas is vir hierdie mooi vlieënierspaar se seun.
Dit vat nie ‘n massiewe begroting om ‘n mooi en geordende babakamer te hê nie. Baie is met rede versigtig vir muurpapier, maar in hierdie geval was dit net die fokuspunt wat die kamer benodig het om dit sy eie gevoel en persoonlikheid te gee. Omdat dit ‘n plekkie van rus is, het ons vir ‘n sagte palet gegaan en die minimum objekte gebruik. Sylvia Strauss, die skrywer van Trouvrou, meen baie mense maak die fout om met ‘n tema oorboord te gaan, terwyl dit meer subtiel gedoen moet word sodat dit nie ‘n vertrek of partytjie oorweldig nie. In hierdie geval het ons dus ook seker gemaak die muurpapier met sy monokromatiese dinosaurusse oorweldig nie die kamer nie, maar voeg eerder by tot die rustige atmosfeer sonder om te oorheers.
‘n Groot mat is ingespan om die vertrek en alles daarin ‘n eenheid te maak. Omdat die vertrek heelwat natuurlike, warm lig ontvang, kon ons wegkom met die mure se grys met ‘n koel ondertoon.
Baba Hercules slaap dalk saans in sy ouers se kamer, maar dis hier waar hy aan die slaap gesus word, en waar ‘n uiltjie musiek maak en die lieflikste laventel-olie geure vrystel. Wat ‘n pragtige babakamer is hierdie eindproduk nie!